Oor Bosbokstrand

Oor Bosbokstrand

Bosbokstrand is ʼn privaat natuurreservaat aan die Oos-Kaapse Wildekus. Hierdie idilliese reservaat word omvou in ʼn baai tussen Haga-Haga en Cintsa en is ongeveer 70 km vanaf Oos-Londen. Die laaste 15km is ‘n grondpad.

Die strand is plek-plek met rotsbanke beklee en strek etlike kilometer ver. Dit is ʼn ware hengelparadys. Verder bied ʼn strandmeer veilige swemplek vir jou en jou kroos en vir die avontuurlustiges is daar asemrowende staproetes wat deur ongerepte bosse en klowe loop. Meer as 240 voëlspesies en 12 bokspesies, wat kameelperde en sebras insluit, kom daar voor. Bosbokstrand is ʼn lieflike kusvakansie-bestemming en is die perfekte plek om te gaan afskakel, jou batterye te herlaai en te ontspan. 

Vir die afgelope paar dekades was dit die doel van hierdie natuurreservaat om die ongerepte natuurerfenis wat onder sy beheer val, te beskerm en te bewaar en om ʼn ontspanningstuiste vir lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap te bied. Dit is die Solidariteit Beweging se voorneme en hy verbind hom daartoe om hierdie doel te laat voortleef en om dit verder uit te bou binne die selfdoen kultuur van die Solidariteit Beweging. 

As jy moeg is vir ʼn besige, gejaagde lewe is hierdie asemrowende strand met sy rotse wat hom toevou, groot skulpe en pragtige sonsondergange die ideale plek vir jou.

Gereelde vrae

Die naaste winkel is in Haga-Haga.

  • ʼn Speelparkie
  • ʼn Tennisbaan (Bring eie rakette)
  • ʼn Vlugbalbaan
  • ʼn Snoepie – lekkergoed, hout en houtskool 
  • ʼn Wassery
  • Beperkte vriesgeriewe vir kampeerders
  • Hengel
  • Voëlkyk
  • Stap
  • Rus
  • Piekniekhou in die duine
  • Stranduitstappies
  • Geen groepbesprekings word toegelaat nie.
  • ʼn Deposito is betaalbaar by bespreking vir alle  besprekings in skoolvakansies en langnaweke.
  • Die deposito sal verbeur word indien die bespreking gekanselleer word.
  • Besprekings en deposito’s is nie oordraagbaar nie.
  • Die balans is by aankoms onmiddellik betaalbaar.
  • Slegs EFT- of kontantbetalings kan aanvaar word – geen kaartfasiliteit is beskikbaar nie.
  • Die bespreking word verbeur indien ʼn gas sonder dat ʼn reëling getref is nie op die eerste dag van die bespreking opdaag nie.
  • Gaste is verantwoordelik vir betaling vir die volle tydperk soos op die besprekingsvorm aangedui.

Belangrike reëls

  • Geen dagbesoekers nie.
  • Geen groepsbesprekings.
  • Minimum bespreking van 2 nagte.
  • Geen motorfietse/bote of viertrekmotorfietse word toegelaat nie.
  • Die skoonmaak van vis moet op strand geskied en aas moet reukvry verpak word.
  • Die gebruik van vuurwapens is verbode en die besit van vuurwapens moet by aankoms verklaar word.
  • Geen troeteldiere word toegelaat nie.
  • Mense mag nie in voertuie of op enige ander plek of wyse as wat voorgeskryf is, oornag nie.
  • Geen tente mag tussen chalets opgeslaan word nie.

  • Geen digte grondseile word toegelaat nie.
  • Vure mag slegs op die voorgeskrewe plekke gemaak word en moet onmiddellik ná gebruik geblus word.
  • Geen klappers, vuurwerk of Chinese lanterns mag op die terrein of op strand afgevuur word nie.
  • Geen vure mag op strand gemaak word nie.
  • Diere en plantegroei mag nie bedreig, beskadig of verwyder word nie.
  • Geen drankmisbruik, onwelvoeglike taal of luide musiek sal op die terrein toegelaat word nie.
  • Stilte moet vanaf 22:00 tot 07:00 gehandhaaf word.
  • Geen hommeltuie mag oor die eiendom gevlieg word nie.

LET WEL

Persone wat hulle skuldig maak aan die verontagsaming van bogenoemde reëls sal versoek word om die terrein onmiddellik te verlaat.

Vir die afgelope paar dekades was dit die doel van hierdie natuurreservaat om die ongerepte natuurerfenis wat onder sy beheer val, te beskerm en te bewaar en om ʼn ontspanningstuiste vir lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap te bied. Dit is die Solidariteit Beweging se voorneme en hy verbind hom daartoe om hierdie doel te laat voortleef en om dit verder uit te bou. 

As jy moeg is vir ʼn besige, gejaagde lewe is hierdie asemrowende strand met sy rotse wat hom toevou, groot skulpe en pragtige sonsondergange die ideale plek vir jou.

SKADE EN AANSPREEKLIKHEID

Besoek aan Bosbokstrand geskied op eie risiko.

Die eienaar of enige persoon werksaam op die terrein, aanvaar geen verantwoordelikheid vir verlies of beskadiging van goedere, diefstal, ongelukke of beserings nie.